Lê-Jou-Eier Bloguitdaging: Kaleidoskoop Hoofstuk 11 – Nuwe patroon

Maar toe sy by oom Esra-hulle op die plaaswerf inry, staan hy haar en inwag. Hoe nou gemaak? Sy kan nie besluit nie: Lyk hy kwaad, of lyk hy verlig?

Nellie sien die verligting op Oom Esra se gesig. Tipies Nellie voel sy sleg en spyt. Sy moet vir Oom Esra jammer sê. . . .
Met die skree die regisseur, Atholl Wolfaardt “CUT! Nee, nee, nee Daniella! waar is die emosie?”
Daniella Liebenberg sug hardop. Dit is die tiende keer wat hierdie toneel onderbreek word oor haar toneelspel te min ‘emosie’ het.
Wat besiel haar om telkens tevrede te moet wees met hierdie Mona Kotze tipe rolle? En watter jong vrou in haar twintigs in vandag se tyd wil haar hoendertjies gaan kry en net dankbaar wees vir wat sy het? Wat het Melinda gedink toe sy hierdie draaiboek geskryf het?
“Ek kan nie meer so aangaan nie,” sê Daniella en klim uit die ou skedonk. “Atholl, ek gaan nie verder voor ek, jy en Melinda Hoogenboesem hierdie Nellie karakter regruk nie! Ek wag in my aantrekkamer vir julle.”
Daniella hoor ‘n klop aan die deur. “Kom binne.” Atholl kom in gevolg deur ‘n ontevrede Melinda. “Ek hoor jy het ‘n probleem met die karakter, Daniella?”
Daniella druk die blonde krulle uit haar gesig. “Hierdie storielyn was aanvanklik so goed geskryf en ek was vreeslik opgewonde om saam met jou te werk, maar iewers is die pot mis gesit. Ons storie se naam is Kaleidoskoop. Dit impliseer verrassings en wendings. Mens moet verstom wees oor wat volgende kom. Kleurvol en interressant, alles behalwe voorspelbaar. Waarom kan Nellie nie ‘n byderwetse, moderne vrou wees met drome en planne soos aan die begin van die draaiboek nie, dit voel of ons besig is met ‘n sepie soos Days of our lives,” sê Daniella en gooi haar hande in die lug. “Ons gaan beslis nie ‘n Safta toekenning kry met hierdie Aspoestertjiestorie nie.”
Atholl knik sy kop en kyk na Melinda, “Ek stem saam met Daniella, ons kan beter doen.” Melinda kyk verbaas na Atholl, “Dis nie asof julle al ‘n leeftyd skryf nie en ek het al toekennings ontvang.” Atholl skud sy kop en kyk na Melinda. “Jy het miskien al baie toekennigs ontvang maar ek sal self graag met een wil huis toe gaan.”
Daniella voeg by:”Dink jy nie Nellie het dit in haar om die heldin van haar verhaal te wees nie? Kom ons gee haar ‘n stem en gee die gehoor iets om na uit te sien as die film op die silwerdoek verskyn.”
Na ‘n lang stilte sê Melinda: “Julle het ‘n punt beet. Nou toe, laat ons wegspring, ons het nie meer baie tyd oor om hierdie film klaar te maak nie. Draai sy Kimberley toe en gaan maak dinge reg met Renier? Of gaan sy Bloemhof toe, vandaar verder noord. Weg na ‘n nuwe lewe?”
“Ek dink Nellie moet terugkeer Kimberley toe en vir Renier en die gereg haar dilemma verduidelik. Dalk kan liefdevolle geregtigheid geskied. . . en ek sal ook nie omgee om ‘n paar soene by die Renier-akteur te steel nie,” sê Daniella en knipoog.
Atholl lag uit sy maag en Melinda kan nie help om te glimlag nie. “Ek beter aan die werk spring sodat julle met die verfilming kan voortgaan. ‘n Selfversekerde Nellie wat ‘n sindikaat oopvlek en die man kry. Nou ja toe.”
‘n Paar dae later is Daniella se nuwe Nellie terug by die kruispad op die geleende motorfiets.
Sy sit die flikkerlig aan en draai in Kimberley se rigting.
Gaan Nellie Renier kan oortuig dat sy nie deel is van die sindikaat nie of gaan sy self moet plan maak om uit hierdie gemors te kom?

 

16 thoughts on “Lê-Jou-Eier Bloguitdaging: Kaleidoskoop Hoofstuk 11 – Nuwe patroon

  1. Total reboot! Wel, gelukkig het ek nog nie die karakterkaart op datum gebring nie. Sielsoeker, jy skryf baie lekker – goed bedoel ek (mens mag mos deesdae nie die woord lekker gebruik tensy jy aan iets proe nie, so seg die taalmense). Ek dink jy het skrywersbloed in jou are. Welgedaan, nou is ons op ‘n filmstel en daar kan ènigiets gebeur.

    Liked by 1 person

Leave a reply to sonell Cancel reply